Vrouedagvieringe by die Weskus

Die vrouebeamptes van die Weskus Distriksmunisipaliteit is Vrydag hier tydens Vrouedagvieringe vergas deur die Raad.  Tydens ‘n ontbyt wat gereël is ter viering van die vroue se rol in die land, het die uitvoerende burgemeester van die Weskus, raadslid Harold Cleophas die vroue by die munisipaliteit bedank vir hulle rol en bydraes tot die sukses van die munisipaliteit.

Die Weskus is onlangs deur die ouditeur-generaal Kimi Makwetu, geloof vir hulle derde agtereenvolgende skoon oudit.

“Dankie vir wat julle beteken by julle huise, in die gemeenskap en hier by die munisipaliteit. Julle is baie spesiaal vir ons hier by die Weskus,” het hy gesê.  Die munisipale bestuurder mnr Henry Prins het by hom aangesluit en gesê hy is dankbaar vir die geleentheid wat die burgemeester en die raad aan die beamptes skenk om ook op hierdie wyse hulle dank aan die vrouens te bewys.

“Vrouens moet weer hulle regmatige plek in die samelewing inneem. Ons kan nie toelaat dat kinders agter motors gesleep word nie,” het hy gesê, met verwysing na die voorval waarin die vierjarige Taegrin Morris van Reiger Park aan die Oos Rand vroeër gesterf het.

Me Adelle Grosse, van die organisasie Proud 2Be Me was die gasspreker tydens die geleentheid. Sy het die vrouens aangemoedig dat indien hulle ‘n positiewe bydrae tot die gemeenskap wil lewer moet hulle by hulle self begin. “It starts with me”, was haar leuse tydens die toespraak. Sy het veral vier dinge uitgelig wat vir haar in haar omstandighede gewerk het. My rol en verantwoordelikheid, Self esteem, effektiewe kommunikasie, dissipline en waardes in die familie.

Elkeen van die besprekingspunte is toegelig met ‘n uittreksel uit ‘n video opname wat groot byval onder die vroue gevind het.

Vroulike beamptes tydens Vrouedagvieringe by die Weskus Distriksmunisipaliteit.

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.