Raad se termyn loop ten einde

MOORREESBURG:  Die uitvoerende burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit raadsheer Harold Cleophas het Woensdag hier in sy laaste begrotingstoespraak, nie net afskeid geneem van sekere Raadslede nie, maar ook hoogtepunte van sy termyn uitgelig. Die termyn van die raad loop met die komende munisipaleverkiesing in Augustus ten einde.

“Toe ek op 15 Junie 2011 my inhuldigingstoespraak gelewer het, het ek gesê ek wil nie net in stand hou nie, maar verdere hoogtes bereik. Die bekendstelling van die Weskus Ekonomiese Forum in 2012 en die afgelope vyfjaar se agtereenvolgende skoon oudit verslae is merkwaardige prestasies wat ons in die tyd behaal het,” het hy gesê.

Enkele ander prestasies soos die suksesvolle Goue Oue-spele wat jaarliks deur die munisipaliteit aangebied word, nadat die befondsing deur Sosiale Ontwikkeling gestop is, is ook onder die aandag van die Raadslede gebring.

By die geleentheid is die munisipaliteit se begroting vir die komende jaar ook aangekondig. Die Kapitaalbegroting vir die Weskus Distriksmunisipaliteit vir die 2016/17 boekjaar beloop R11m teenoor verlede jaar se R8m. Hiervan kry water, nagenoeg 68%.

Die Bedryfsuitgawes vir hierdie boekjaar beloop nagenoeg R344m. R123m hiervan is vir die instandhouding van paaie. Ander dienste waarvoor daar begroot is: Ontwikkeling en Opleiding R5.5 m, Toerisme R3 m, Brandweerdienste byna R36m en Gesondheid ongeveer R21m.

Saam met die begroting is daar ook altyd nuwe tariewe wat aangekondig word. Water is met 7.5% verhoog en die gelde by Ganzekraal Vakansieoord met ‘n verdere 10%. Soos gewoonlik word die eerste 6 kiloliter water gratis verskaf aan die eindgebruikers aan wie die munisipaliteit water voorsien.

In sy bedanking aan die uitgaande raad het die burgemeester spesiale dank gebring aan Raadsheer Klasie Rust wat na 37 jaar in plaaslike bestuur die tuig neerlê. Ook raadsheer Enid Plaatjies van die opposisie, het die uittredende raadsheer geloof en bedank vir hulle jarelange samewerking. Ander Raadslede van wie daar afskeid geneem was, is Raadsheer Riaan Mouton en Raadsheer Jan Cilliers.

Die begroting vir 2016/17 sowel as die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) is aanvaar deur die meederheid met die opposisie wat buite stemming gebly het.

Raadsheer Harold Cleophas

Raadsheer Harold Cleophas

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.