LUR besoek Weskus

Die Wes-Kaapse plaaslike minisiter vir Menslike Nedersetting, Bonginkosi Madikizela, het tydens die jongste vergadering van die Distrik Koördinerings Forum (DKF), besoek gebring aan die Weskus Distriksmunisipaliteit. Die DKF bestaan uit al die burgemeesters en munisipale bestuurders van die B-munisipaliteite in die Weskus Distrik.
Die LUR en sy afvaardiging het tydens die vergadering die nuwe strategiese beleid van sy departement vir die tydperk 2014 tot 2019 aan die vergadering bekendgestel.
“Ons is tans besig met ‘n ‘roadshow” en ek vra die munisipale bestuurders en burgemeesters om na die strategie te luister en om hulle insette met ons te deel, voordat ons die amptelike dokument saamstel.”
Een van die knelpunte wat die departement gedwing het om weer ‘n slag te kyk na die huidige behuisingsplan of Menslike Nedersetting, soos die departement vandag bekend staan, is dat die staat nie sal kan volhou om goedkoop huise aan inwoners te verskaf nie. ‘n Ander probleem wat ook na gekyk moet word is, is dat mense wat lank reeds op waglyste is, steeds aan die agterste speen suig, terwyl die wat met onwettige optredes, hulle misnoeë te kenne gee, dikwels eerste gehelp word.
“Het dit nie tyd geword dat ons ons fokus verander en ons hulpmiddele so eweredig as moontlik versprei, waar dit die nodigste is nie. Het dit nie tyd geword dat ons in plaas van om duisende rande aan een famile te skenk vir ‘n huis en ons vir ‘n ander familie sê om sy beurt af te wag vir die bou van ‘n toilet, is nou finaal verby nie.”
Enkele probleme en uitdagings wat die nuwe beleid in die gesig staar, is deur die minister onder die aandag van die afgevaardigdes gebring. Die geweldige groei in inwonersgetalle in die Wes-Kaap dra verder by tot die agterstand van behuising. “Die groei in getalle plaas druk op die infrastruktuur van die gebied,” het hy gesê.

Ander probleme soos die styging in vervoerkostes maak dat mense naby hulle werk bekostigbare behuising soek en nie meer wil reis na hulle onderskeie werksplekke nie.
In die voorlopige dokument word daar ook klem gelê op die probleme wat mense ondervind wat agter in ander mense se erwe woon. Sulke huurders stel hulle somtyds bloot aan uitbuiting en swak behandeling deur die eienaar.
Madikizela, het beloof dat hy sal na elke munisipaliteit individueel terugkeer vir hulle insette. Van die munisipale bestuurders het ook interessante punte gelig oor wat hulle in die gemeenskappe ondervind.

V.l.n.r. Uitvoerende burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit Harold Cleophas, Jakes Botha, burgemeester van Matzikama, Tijmen van Essen (burgemeester van Swartland), Wes-Kaapse plaaslike minister vir  Menslike Nedersetting, Bonginkosi Madikizela, Ewert Manuel, burgemeester van Bergrivier en Francois Schippers van Saldanhabaai.

V.l.n.r. Uitvoerende burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit Harold Cleophas, Jakes Botha, burgemeester van Matzikama, Tijmen van Essen (burgemeester van Swartland), Wes-Kaapse plaaslike minister vir Menslike Nedersetting, Bonginkosi Madikizela, Ewert Manuel, burgemeester van Bergrivier en Francois Schippers van Saldanhabaai.

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.