Leerders na Duitsland

MOORREESBURG:  ‘n Groepie van 12 leerders van skole uit die omgewing vertrek komende Saterdag na Blankenburg in Duitsland, waar hulle vir ‘n paar dae aan ‘n jeugkamp gaan deelneem.

Die opgewonde leerders het die laaste week van die skoolvakansie gebruik om hulle voor te berei vir die kamp. Tydens hulle besoek sal hulle ook kennis maak met jeugdiges van ander nasionaliteite. Die seuns en dogters se ouderdomme wissel van 14 – 17 jaar.

Faith Blanckenberg van Piketberg, een van die leerders wat die toer meemaak, sê sy is baie opgewonde oor die vooruitsig. “Ek beskou dit as ‘n voorreg om te gaan en om leerders van ander lande te ontmoet. Ek hoop die besoek sal my denke en visie help verbreed.”

Maulisha Markus, van Riebeeck-Wes  sê sy is opgewonde, maar ook bietjie skrikkerig om vir die eerste keer so ver te vlieg. “Ek sien daarna uit om nuwe vriende te ontmoet en die besoek sal beslis ‘n lewenservaring wees om te onthou.”

Die doel van die kamp is om verdraagsaamheid tussen kulture aan te moedig, leierskap te ontwikkel, leerders se visie te verbreed en ‘n gevoel van verantwoordelikheid te kweek. Die samewerkingsooreenkoms tussen die Weskus  en die Duiste organisasie die Landesverband Kinder-und Jungenderholungszentren (KIEZ), in Duitsland, is in 2014 onderteken.

Volgens die groepleier me. Melonice Blanckenberg, bestuurder sosiale ontwikkeling by die Weskus, sal die leerders tydens die toer ook besoek bring aan die Moses Mendelssohn Filosofie Akademie sowel as die Duitse literêre museum in Halberstadt.

Hulle sal ook ‘n Werkswinkel oor emosionele intelligensie en adolosensie bywoon. Die UNESCO kultuurerfenis stad Quedlinburg is ook op die program.

Die leerders sal ook vergesel word deur Lorraine Cornelius en Myrtle van Heerden van Goedverwacth.

V.l.n.r. Herschelle Januarie, Faith Blanckenberg, Andrea Visser, Mzikayise Nondala, Rache Markus en Amber Tobias. Voor. Mivago Yaleka, Nanitska Rosant, Migayle van der Westhuizen en Maulisha Markus. Afwesig was Taine Julius en Shawne Morgens

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.