Goue Oue-spele

Die jaarlikse Goue Oue-spele aan die Weskus het op Dinsdag 15 Julie 2014 op luisterryke wyse in ’n reuse markiestent op Piketberg se krieketveld afgeskop. Nagenoeg 700 senior burgers van oor die hele Weskus-streek het vir twee dae op die dorp saamgetrek om aan verskillende sport-items deel te neem.

Die verrigtinge het die middag afgeskop met ’n galageleentheid, wat deur verskillende burgemeesters van die omgewing sowel as amptenare van die Wes-Kaapse departemente van Sport en Maatskaplike Ontwikkeling bygewoon is. Burgemeester Evert Manuel van Bergrivier Munisipaliteit, wat vanjaar as   gasheer opgetree het, het die deelnemers welkom geheet.

Raadslid Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester van Weskus Distriksmunisipaliteit, het met sy spreekbeurt gesê die munisipaliteite wat by die spele betrokke is, skep dié geleentheid om dankie te sê vir en erkenning te gee aan senior burgers se bydrae in hul onderskeie gemeenskappe, dorpe én die land. “U stap nie alleen nie, ons stap die pad saam met u,” het hy gesê.

Burgemeester Manuel het deelnemers sterkte toegewens met die volgende dag se deelname. “U inspireer ons, en u is almal reeds wenners.” Burgemeester Francois Schippers van Saldanhabaai het deelnemers op sy beurt gevra om in hulle onderskeie gemeenskappe betrokke te bly. “Wees die kern van die familie en bly die raadgewers in die huis en op die dorp.”

Talle pryse is gedurende die geleentheid aan deelnemers toegeken. Diegene wat verlede jaar op nasionale vlak deelgeneem het, het sertifikate ontvang en me Mathilda Abrahams van Malmesbury is vir haar bydrae as nasionale lid van die Parlement vir Ouer Persone vereer.

Oom Harry Blake van Langebaan het  ’n kers aangesteek ter nagedagtenis aan deelnemers wat deur die jaar oorlede is. Die vlam het vir die duur van die spele bly brand.

’n Bekende verhoogkunstenaar van die Weskus, Steyn Fourie, het die deelnemers met sang en musiek vermaak.

Die burgemeester Francois Schippers van Saldanhabaai, Mathilda Abrahamse en uitvoerende burgemeester Harold Cleophas

Oom Japie Miggel (Met die rooi hemp) ontvang sy sertifikaat.

Een van die items was “dressing up”.

Die “Duck Walk” item

“Pass the ball” item

Oom Harry Blake van Langebaan het ’n kers aangesteek ter nagedagtenis aan deelnemers wat deur die jaar oorlede is.

 

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.