Eienaars maak hul harte oop oor Verantwoordelike Toerisme

MOORREESBURG:  ‘n Groot aantal afgevaardigdes in die toerismebedryf hier in die Weskus en die Wes-Kaap, het Maandag op Piekenierskloof vergader vir ‘n konferensie oor Verantwoordelike Toerisme (Responsible Tourism). Onder die afgevaardigdes was die Wes-Kaapse  LUR Allan Winde, vir  Ekonomiese geleenthede en Landbou.

Die LUR, het die belangrikheid van Toerisme as werkskepper in die Wes-Kaap sterk beklemtoon. Hy het die afgevaardigdes aangemoedig om verantwoordelike toerisme na nuwe hoogtes te neem.  “Die manier waarop u kliënte behandel asook die omgee vir u omgewing is ewe belangrik,” het hy gesê.

Die doel van die konferensie was om produk eienaars in die Weskus bewus te maak van die belangrikheid van verantwoordelike toerisme en die volhoubaarheid daarvan.

Afgevaardigdes is in drie wegbreekgroepe verdeel. Elke groep het ‘n spesifieke onderwerp gekry om te bespreek. Hier het gassprekers insette gelewer oor hulle bydraes tot verantwoordelike toerisme, oor die jare. Die klem het geval op produkte wat ‘n positiewe impak op die ekonomiese-, sosiale- en omgewingsvlakke lewer.

Samantha Annandale, bestuurder van ‘n hotel in Kaapstad, wat vroeër ‘n nasionale toekenning ontvang het as een van die  groenste hotelle in Afrika, was die hoofspreker. Volgens haar maak die hotel van sy eie windturbines en sonpanele gebruik om energie op te wek. “Grys water” en reënwater word met ‘n gevorderde energie stelsel omskep om temperatuur in die kamers te beheer.

Wilfred Chivell van Marine Dynamics, op Gansbaai wat toeriste op see neem om saam met die haaie te duik, was een van die sprekers wat oor die bewaring van die kuslyn en die seelewe gepraat het. As deel van sy bydrae om omgewingsbewustheid aan te kweek, het hy spesiale houers langs die see laat oprig waar ou afval vislyn gestoor word, wat weer deur die plaaslike vissers gebruik word.

 

Lesley Gillet van Bartholomeus Klip, buitekant Hermon, het oor die belangrikheid van opleiding gesels. Opleiding van personeel en die gemeenskap, is een van hulle hoof bydraes tot verantwoordelike toerisme. Leerders van die personeel word met studiebeurse gehelp om hulle kwalifikasies te verbeter.

Van die ander gedagtes wat bespreek was, is die besparing van water, elektrisiteit, afval en bekostigbare opleiding van personeel.  Besoekers word vriendelik versoek om spaarsamig met water as ‘n noodsaaklike hulpbron om te gaan.

Die LUR, het die afgevaardigdes versoek om ‘n aksieplan na afloop van die konferensie saam te stel.

Die konferensie is afgesluit met die verkiesing van ‘n nuwe bestuur vir die Weskus streek-toerisme organisasie. Lizanne de Jongh van Saldanhabaai-streek, Hilary Morris van Bergrivier toerisme is die voorsitter en ondervoorsitter onderskeidelik. Monika de Jager van Mamaqua West Coast is bemarkingsvoorsitter en Yvette Odenddaal is die ontwikkelingsvoorsitter.

Tydens ‘n skemerkelkie is die nuwe logo van die Weskus Streek Toerisme Organisasie bekend gestel.

Van die beamptes wat die konferensie oor Verantwoordelike Toerisme bygewoon het.  V.l.n.r. Kiewiet van Rooyen (Weskus), André Kruger (WKDM), LUR Alan Winde, Rdh. Harold Cleophas (uitvoerende burgemeester van WKDM), Henry Prins (munisipale bestuurder), Marius Koen ( WKDM), Lizanne de Jongh (Weskus) en Heidi van der Watt (Better Tourism Africa)

Van die beamptes wat die konferensie oor Verantwoordelike Toerisme bygewoon het. V.l.n.r. Kiewiet van Rooyen (Weskus), André Kruger (WKDM), LUR Alan Winde, Rdh. Harold Cleophas (uitvoerende burgemeester van WKDM), Henry Prins (munisipale bestuurder), Marius Koen ( WKDM), Lizanne de Jongh (Weskus) en Heidi van der Watt (Better Tourism Africa)

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.