Begrotingsrede is belowend

Die jaarlikse hersiening van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2012/2016 en die  begroting vir 2014/15; 2015/16 en 2016/17 se finansiële jaar, is verlede Maandag tydens ‘n spesiale vergadering van die Weskus Distriksmunisipaliteit aanvaar.

Uitvoerende burgemeester Harold Cleophas het tydens sy begrotingsrede hulde gebring aan mnre. Nelson Mandela, voormalige  president van die land en raadslede Isaac Frederick Julius (62) en Cornelius Ovis (53) wat ons teen die einde van verlede jaar en vroeg vanjaar onderskeidelik ontval het.

Cleophas het die personeel wat verantwoordelik is vir die samestelling en handhawing van die twee dokumente geloof vir hulle werk. “Ek loof die personeel, want as gevolg van hulle toegewydheid is die Weskus Distriksmunisipaliteit die afgelope finansiële jaar met verskieie toekennings bekroon. Onder andere het die Weskus Distriksmunisipaliteit op 31 Maart 2014 die “Clean audit award” vir n derde agtereenvolgende keer ontvang.”

Vanjaar se Kapitaalbegroting  beloop nagenoeg R48 miljoen teenoor verlede jaar se R16 miljoen. Nagenoeg 95% van die bedrag gaan aan grootmaat water bestee word. Die bedryfsbegroting vir die nuwe boekjaar beloop nagenoeg R285 miljoen teenoor R270 miljoen van verlede jaar.

Toerisme het bietjie meer as R2 miljoen ontvang. “Toerisme is tans die vinnigste groeiende ekonomiese sektor in die wêreld en ook een van die sektore in die Weskus wat indirek die meeste werk verskaf.  Dit is baie belangrik dat die WKDM voortgaan om as katalisator op te tree vir die groei en ontwikkeling van Toerisme in die Weskusstreek deur middel van effektiewe bemarkingsaksies, samewerkingsooreenkomste en ‘n positiewe klimaat vir toerisme ontwikkeling,” aldus Cleophas.

Twee nuwe Raadslede is ook tydens die vergadering ingehuldig. Raadslid Andreas Sindyamba (DA afgevaardig deur Matzikama munisipaliteit) en raadsheer Enid Plaatjies (ANC proporsionele raadslid). Die twee Raadslede is in die plek van die twee ontslape Raadslede aangestel.

V.l.n.r. Uitvoerende burgemeester Harold Cleophas, raadslid Andreas Sindyamba, raadsheer Enid Plaatjies en Andre Kruger speaker van die Weskus Distriksmunisipaliteit tydens hul  inhuldiging en die begrotingsrede van die uitvoerende burgemeester.

V.l.n.r. Uitvoerende burgemeester Harold Cleophas, raadslid Andreas Sindyamba, raadsheer Enid Plaatjies en Andre Kruger speaker van die Weskus Distriksmunisipaliteit tydens hul inhuldiging en die begrotingsrede van die uitvoerende burgemeester.

This entry was posted in News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.